‘n Sekere Manier Om Tot 12% Van Jou
BTW en die inbegrepe gevaar Indien BTW nie spesifiek vermeld word nie, word regtens aanvaar dat BTW reeds by die ooreengekome prys ingesluit is. As dit nie die bedoeling was nie en jy onder die indruk verkeer het dat die koper nog sy 14% belasting bo en behalwe die koopprys sou betaal, gaan jy teleurgestel word. En jy sal steeds aanspreeklik wees vir die oorbetaling aan SARS van die BTW belastinggedeelte op jou ooreengekome verkoopprys (dit kom neer op 12.28% van die bruto prys). Jy kan natuurlik probeer om aan te dui dat dit deurgaans jou en die koper se werklike bedoeling was dat BTW nie by die prys ingesluit was nie en dat dit bykomend deur die koper betaal sou word. Dit gaan egter nie so maklik wees waar die koper skielik die geleentheid sien om 14% op die koopprys te spaar nie. Wie gaan vir SARS betaal? Die geval van die suiwelboer, die huurder en die opsie om te koop. Die Hoogste Hof van Appèl het onlangs hieroor uitsluitsel gegee. Die eienaar van ‘n suiwelplaas het die plaas as ‘n werkende eenheid grond uitverhuur. Hy het ook aan die huurder ‘n opsie verleen om die plaas vir die bedrag van R700 000 by hom te koop, sonder dat daar enige melding van BTW in die opsie gemaak word. Die huurder het die opsie uitgeoefen teen die prys van R700 000 BTW ingesluit. Soos te wagte beweer die eienaar op sy beurt weer dat die prys definitief BTW uitsluit en hy versoek die hof dan om ‘n stilswyende of inbegrepe ooreenkoms tot hierdie effek in die ooreenkoms in te lees. Die hof is egter nie bereid om sodanige inbegrepe ooreenkoms te aanvaar nie en bevind teen die eienaar. Die eienaar moet dus uit die bedrag van R700 000 wat hy van die koper ontvang, BTW van R85 964 aan SARS oorbetaal.