WANNEER JY OP ‘N VEILING GAAN BIE – VYF REGTE WAT IN JOU GUNS TEL

Het jy gehoop om ‘n winskopie by ‘n openbare veiling op te tel? Is jy nou in die duister na die openbaring van spookbieërs en bieërs wat namens die verkoper die prys opjaag? Indien wel, lees verder ……

Afslaers en die Verbruikerswet

Die Wet op Verbruikersbeskerming en die gepaardgaande Regulasies omskryf en reguleer in fyn besonderhede hoe veilings geadverteer moet word en hoe die werklike veiling gehou moet word. Die Verbruikerswet gee vir jou as belangstellende koper heelwat regte en beskerming by ‘n veiling.

Dit kan net jou hand sterk as jy kennis dra hiervan – die volgende regte is belangrik:-

  1. Alle voornemende bieërs is verplig om voor die tyd vir die veiling te registreer.  Jy sal aan die FICA vereistes moet voldoen en indien jy namens ‘n derde party gaan bie, moet jy skriftelike magtiging tot dien effek hê en voor die tyd inhandig (indien jy namens ‘n maatskappy moet bie, moet die skriftelike en getekende maatskappyresolusie eweneens tydens jou registrasie vir die veiling by die afslaer ingedien word).
    
  2. Veilings moet behoorlik geadverteer word (daar is voorskrifte oor wat in die advertensie moet wees insluitende die voorafkennisgewings wat openbaar moet word).
    
  3. Die veilingsvoorwaardes moet voorberei word; dit moet beskikbaar wees sodat belangstellende partye insae daarin kan hê.
    
  4. Daar moet voor die tyd kennis gegee word indien: –
    

‘n Reserweprys of minimumprys op die veiling of op spesifieke bates geplaas word, waaronder aanbiedinge van die hand gewys mag word; Die verkoper en/of die afslaer die reg wil voorbehou om self op die veiling te bie. Dit is algemeen dat ‘n bank of skuldeiser self ook op ‘n veiling bie en die bate eerder sal inkoop indien ‘n gewenste prys nie op ‘n veiling behaal word nie. Nou word hierdie praktyk gereguleer en moet dit uitdruklik openbaar word. Word dit nie behoorlik bekend gemaak nie, sal ‘n koper voortaan by die hof kan aansoek doen om die transaksie as bedrieglik te laat verklaar. 5. Die veilingshuis moet ‘n formele skriftelike rekord byhou van die geregistreerde bieërs (met name en toegewyste bieërsnommer vir elke bieër). Hierdie rekord moet voor, tydens en na afloop van die veiling kosteloos beskikbaar wees. Die geregistreerde bieërs moet ‘n genommerde spaan, gedrukte kaart of soortgelyke item ontvang waarop hul bieërnommer duidelik aangebring is, sodat dit ten alle tye vir die afslaer en vir alle ander partye wat die veiling bywoon, duidelik is wie die mense is wat bie en op wie die suksesvolle bod toegeslaan word.

Wees ook bedag op die volgende

Die dele van die Wet op Verbruikersbeskerming wat spesifiek handel met die verbruiker se reg op veilige en kwaliteit goedere is nie van toepassing op veilings nie. Daar word wel sekere voorskrifte neergelê – afslaers mag nie wetens wanvoorstellings maak of laat maak betreffende die waarde, samestelling, struktuur, inhoud, aard of kwaliteit van items of goedere wat op veiling te koop aangebied word nie.

Let Wel: Daar is spesiale veilingreëls wat van toepassing is by die verkoping van elektroniese goedere, veilings oor die internet, wild/vee en motorvoertuie. Die regulasies is ook nie van toepassing waar items per veiling aangebied word by liefdadigheidsveilings nie