‘n Rakmaatskappy is ‘n generiese voorafgeregistreerde maatskappy en die gebruik daarvan kan ‘n gerieflike manier wees om bates, veral vaste eiendom, aan te koop.

Pasop vir die slaggate – wie mag teken en wie mag nie?

Wanneer jy ‘n rakmaatskappy koop moet jy seker maak dat jy geen kontrakte namens die nuwe maatskappy teken, alvorens jy amptelik en formeel as ‘n nuwe direkteur aangestel en geregistreer is. Totdat hierdie formaliteite afgehandel is, is dit slegs die bestaande direkteur wat regtens bevoeg en gemagtig is om die maatskappy te bind.

Dat dit kritiek is om hierdie elementêre beginsel na te kom, word in ‘n onlangse saak van die Hoë Hof benadruk. Hier het die koper van ‘n rak BK (‘n beslote korporasie wat vooraf geregistreer is) die BK gebruik om eiendom te koop, twee weke voordat hy amptelik as lid van die korporasie geregistreer is.

Die hof bevind dat die koper regtens geen bevoegdheid gehad het om die BK te bind, alvorens hy as lid aangestel is nie. Dan gaan die hof verder en bevind dat die BK nie by magte was om die ooreenkoms later terugwerkend te ratifiseer of te bekragtig nie. Die hof bevind gevolglik dat die koopooreenkoms van die eiendom vanuit die staanspoor ongeldig was.

Magtiging om as agent op te tree

Indien jy dringend ‘n transaksie wil beklink, voordat jou aanstelling verwerk word, kan die bestaande direkteur (of lid van ‘n BK) jou wel magtig om as agent vir die maatskappy of BK op te tree. Sodanige magtiging moet voor die tyd en skriftelik aan jou gegee word. Om die aanstelling as agent tot sy logiese gevolg deur te trek, sal die volmaggewer waarskynlik homself op hoogte moet bring en moet vereenselwig met die voorgenome transaksie wat in sy naam gesluit word. Dit gaan nie altyd so maklik gebeur nie, so dit is in jou beste belang om nie tot die laaste oomblik te wag voordat jy die die rakmaatskappy aanskaf nie.

Indien u enige navrae het kontak asseblief vir Gerhard Retief op gerhard@gtlaw.co.za of 028 3123626.

© DotNews, 2005-2012. This newsletter is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice.